OpenTTD resensie… wel soortvan

Na my vorige inskrywing Spaar geld, speel die oues is ek sommer weer lus vir Transport Tycoon. Kom ons kyk bietjie na die oorspronklike en ook wat op die oomblik beskikbaar is.

Die pappie

3313

OpenTTD is natuurlik gebaseer op Transport Tycoon. Geskryf deur Chris Sawyer en uitgereik in 1994, Transport Tycoon is vir my een van die beste speletjies ooit. Na ‘n Vrydag-middag episode van een of ander TV-program op SAUK TV2 waar Bullfrog se Theme Park gewys, wou ek net pretparke bou. Nie later nie, nou!

…Maar dinge gebeur baie stadig op die platteland.

Hierdie is die Karoo in negentigs. Geen internet. Hel, geen Eskom op die plaas, net die dieselenjin in die aand. En ook geen plekke om Theme Park by te koop. Teen die tyd dat ek genoeg sakgeld bymekaar gehad het en uiteindelik in die groot dorp, Port Elizabeth,  kon uit kom was Theme Park reeds ‘n klassieke speletjie (of miskien was dit net ‘n flippen ou episode wat die SAUK uitgesaai het, als moontlik).  Dus het my kopie so gelyk: Electronic Arts en Microprose se Essential Selection, Business. Watter tipe mense ‘n speletjie met so ‘n vervelige boks sal koop weet niemand nie, maar ek was een van die hulle.

MicroprosebusEssen
Myne was wel nie in Duits, maar duidelik het iemand anders ook die vervelige boks in Duitsland gekoop en vir my die prentjie op die internet gesit.

En toe hou ek nie eens baie van Theme Park. Een van die grootste aanloklikhede uit die TV-episode was dat jy op die tuimeltreine (o ja, dit is wat Google Translate sê ‘n rollercoaster is) wat jy bou kan ry. Dit draai toe uit om net dieselfde video te wees vir elke liewe, hmmm, tuimeltrein wat jy bou te wees. Niks dinamies daar.

Gelukkig het die vervelige boks ook Transport Tycoon bevat! Ek was dadelik mal daaroor en het vinnig verskeie transport monopolieë bestuur. Chris Sawyer verdien ‘n medalje. Behalwe dat die speletjie nou nog pret is, het hy dit alleen geskryf (musiek en kuns is wel deur ander mense gedoen) en meestal in x86 assembly.

Na Transport Tycoon het Chris Rollercoaster Tycoon geskryf, sekerlik sy gewildste skepping. Ek wonder of hy na Theme Park gekyk het en gedink het, “Ek kan dit beter doen”. Natuurlik in Engels met ‘n rowwe Skotse aksent.

OpenTTD

OpenTTD is maar altyd op my rekenaar. Die huidige weergawe was v1.33, maar ‘n vinnige ogie op die website wys die nuutste weergawe is reeds v1.71. ‘n Vinnige 9Mb later en ek v1.71 hardloop soos ‘n stoomtrein.

Anders as die oorspronklike speletjie ondersteun OpenTTD nie net resolusies van 640×480, maar basies enigiets wat jou rekenaar kan hardloop. Dit is uiters nuttig aangesien ‘n baie groter deel van die kaart nou op een slag besigtig kan word. Alhoewel dit teen HD-resolusies kan hardloop is daar niks HD aan die grafieke nie. Dit lyk presies dieselfde as voorheen, net meer van dit kan op ‘n slag gesien word en dit is ‘n goeie ding.

TTD26062017.png
‘n Nuwe spel in OpenTTD v1.71

Selfoon

Net ‘n kort paragraaf of twee oor mobiele weergawes. Beide OpenTTD en Transport Tycoon is beskikbaar op Google Play. OpenTTD is nie beskikbaar op die Apple App Store omdat Apple nie programme wat onder die GPL vrygestel word toe laat. Simpel Apple. Transport Tycoon is wel beskikbaar.

Die mobiele weergawe van Transport Tycoon is sedert 2013 beskikbaar en is ietwat anders as die oorspronklike. Dit gebruik kuns uit Chris Sawyer se Locomotion en is deur ‘n span geskep met Chris wat help.

Slotsom

Daar het jy dit. Ek hou van Transport Tycoon en dink almal moet dit speel. Die mense agter OpenTTD hou dit lewendig en doen uitstekende werk. Probeer OpenTTD gerus. Tot volgende keer, totsiens.

 

 

0 thoughts on “OpenTTD resensie… wel soortvan”

Leave a Reply