Die groter prentjie

Die laaste paar maande het ek heelwat tyd spandeer om kleiner en kleiner elektroniese komponente te probeer soldeer. In vandag se dae is dit beter om oppervlak-komponente te gebruik, selfs vir jou projekte by die huis. Hulle is goedkoper as “through hole” komponente en dit is ook heelwat makliker om stroombaanbordjies vir hulle te ontwerp en te vervaardig. Daar is natuurlik uitsonderings soos hoër krag weerstande of groter kapasitore wat dalk benodig word, maar as dit kom by digitale stroombane en veral hoër frekwensie stroombane dan is oppervlak-komponente gewoonlik die beter oplossing.

Met bietjie oefening kon ek heel maklik die 0805 grote komponente soldeer en het kort daarna braaf genoeg gevoel om 0603 grote aan te pak. Alhoewel mens hierdie komponente gesoldeer kan kry raak dit regtig moeilik om te sien of mens nie dalk iewers n brug geskep het tussen stroombane nie. Veral as dit kom by IC komponente waar die penne soms minder as n halwe milimeter van mekaar kan wees.

SMDComponentSizes
Net om n gevoel te gee van die grote van 0805 en 0603 componente

Nadat ek n mikroverwerker verloor het omdat daar n soldeer brug tussen twee penne gevorm het, wat ek nie kon sien nie, was dit tyd om aan oplossings te begin dink. Hier is so paar oplossings wat ek probeer het:

Vergrootglas wat op my “helping hands is”

20171119_144450
Hierdie tipe vergrootglase is eindlik nie te sleg nie en mens kan baie ver kom met hulle. Probleem is net dat dit soms ongemaklik kan wees om te verstel terwyl n bordjie vasgehou word. Ander probleem is dat daar baie keer nie genoeg lig op die onderwerp is nie wat dit ook moeilik maak om te sien.

Goedkoop vergrootglas met LED ligte

20171119_144522.jpg
Om bietjie meer lig op die onderwerp te gooi het ek n goedkoop vergrootglas gekry wat LED ligte aan die onderkant het en die area waarna jy kyk kan verlig. Ek glo mens kry seker beter weergawes maar die een wat ek het maak n beter flits as n vergrootglas. Hy het nou wel helder LED ligte maar sy vergrooting is hopeloos te swak.

USB mikroskoop

20171119_144427.jpgEk kyk nogal heel gereeld Dave Jones see EEVBlog op YouTube en het toe op een van sy episodes afgekom waar hy n resensie doen oor goedkoop USB mikroskope. Het Ebay ingespan en die een wat hy aanbeveel bestel.
Dit is basies n tipe “webcam” kamera waarvan mens die lens kan verstel om nogal indrukwekkende vergroting te kry. Die kamera is maar net 2MP maar omdat mens nie regtig op digitale vergroting staatmaak nie is dit heel werkbaar. Ek gebruik meestal die 640×480 resolusie maar mens kan die resolusie ook opstel teen koste van die traagheid. Hy het ook LED ligte waarvan mens die intensiteit kan verstel met n knop op die USB kabel.
Vir omtrent 30 Euro is die mikroskoop glad nie sleg nie en sal verseker help dat ek nie weer n soldeer bruggie mis nie. Verder veskaf die mikroskoop ook heelwat pret wanneer mens na ander goed ook begin kyk. Hier is n paar fotos wat ek met hom geneem het:

3W LED

1314936945113

1314936934888
Selfde as vorige net bietjie meer vergroot
1314936927464
Nog n bietjie meer vergroot

SAMD21G18 Microverwerker

1315003454018

Oppervlak USB prop

1315002705592

Muskiet wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was

1315304701359

1315304764596

1315304791259

Juweliersvergrootglas

20171119_144615

In die soektog het ek ook op n juweliers-vergrootglas afgekom wat baie goed werk as mens na n baie klein area wil kyk. Hierdie klein vergrootglasie is seker ook die een wat ek op die oomblik die meeste gebruik, dit is vinnig om hom gou te gryp en n soldeer area te inspekteer of IC nommer te lees. Die vergroting is ook nogal indrukwekkend en omdat hy so klein is kom mens makliker op moeilike hoeke in met hom.

Slotsom

Daar is nie regtig een oplossing wat altyd die beste gaan werk nie. As mens n paar Rand ekstra spandeer op n goeie vergrootglas sal dit dalk vir baie gevalle genoeg wees. Die USB mikroskoop is baie goeie opsie, sy vergrotings faktor is heelwat hoër (500x teenoor 30x vir die juweliersvergrootglas) as die vergrootglase en laat mens toe om fotos te neem wat mens dan later kan inspekteer of deel met ander. Een voordeel wat die gewone vergrootglase het is dat mens hulle kan gebruik om te kyk waar jy soldeer terwyl jy soldeer, die USB mikroskoop se traagheid maak dit bietjie moeilik. Duurder mikroskope sal natuurlik nie daardie probleem he nie.

Leave a Reply